Na ‘n tydperk van baie verwagting en lang afwagting is Hoër Volkskool se nuwe skoolhoof aangestel. Die skool was vir sowat 18 maande sonder ‘n permanente hoof nadat mnr. Theo Dörfling afgetree het.
Me. Henriëtte Malan het die afgelope tyd as skoolhoof waargeneem en kan ons vandag met opgewondenheid aangekondig dat sy as HVS se nuwe skoolhoof aangestel is.
Me. Malan is nie ‘n vreemdeling aan die skool nie. Sy het in April 1996 by Hoër Volkskool as ‘n jong nuwe juffrou aangesluit. In Julie 2015 is sy as Departementshoof aangestel. Deur die jare het sy bewys dat sy ‘n betroubare en toegewyde onderwyseres en bestuurder is.
Die skoolgemeenskap sien daarna uit om onder me. Malan se leierskap nuwe hoogtes te bereik. Haar passie vir onderwys, haar ervaring en haar verbintenis tot die welstand van die skool en sy leerders maak haar ‘n uitstaande keuse vir die posisie van hoof.
Haar visie vir haar rol is hoof is as volg: ‘Ek streef daarna dat elke leerder, onderwyser, ouer en oudskolier regtig ‘n ware, trotse Volksie sal wees.’
Die personeel, leerders en beheerliggaam is vol vertroue dat die nuwe hoof ‘n positiewe impak op die skool sal hê en ‘n erfenis van sukses sal vestig. Ons wens haar alle voorspoed in haar nuwe rol as hoof van Hoër Volkskool toe.

Meer Nuusberigte