Hoër Volkskool was vanjaar in die bevoorregte posisie om vier sprekers in die landswye PodiumPret finaal te hê wat op Vrydag, 09 Augustus, by La Rochelle Hoër Meisieskool in die Paarl aangebied is. Dié sprekerskompetisie slyp deurlopend aan die sprekers se vaardighede om krities en kreatief hul opinies in Afrikaans te redeneer, motiveer en oor te dra. Die kompetisie het verskeie kategorieë volgens die tipe toespraak wat gelewer word.

Na afloop van aanlyn rondtes, is die finaal in kleur en geur in persoon aangebied en het Adriaan Blignaut (Gr.12), Mikha Enslin (Gr.10) en Mia Prinsloo (Gr.9) HVS en die Oos-Kaap verteenwoordig. Anna-May Hayes (Gr.11) het per video deelgeneem aan die finaal en het die vier sprekers hulself uitstekend van hul taak gekwyt. Beide Anna-May en Mikha het sertifikate ontvang met ‘n finale punt bo 80% – merkwaardige prestasie in die geselskap van streng kompetisie van sprekers vanuit van ons land se top skole.
Mia Prinsloo het haarself bewys tussen sterk teenstanders en stap weg as die algehele kategorie wenner vir motiveringstoesprake Graad 9 en die erkenning as die beste motiveringsspreker vir haar ouderdomsgroep in die land.

Adriaan Blignaut het die beoordeelaars aan sy lippe laat hang en stap weg as die kategorie wenner vir Redenaars asook die algehele graadwenner vir Graad 12 uit al die kategorieë wat hom dan erken as die beste redenaarsspreker in die land. Later die aand is hy by ‘n verdere geleentheid (waar hy ook as die vooraf genooide seremoniemeester opgetree het) met die gesogte Arendsvlerke-toekenning vereer is vir sy uitsonderlike prestasie en bydra tot Afrikaans. Sy naam word ook op ‘n plaatjie in die tuin van die Taalmonument buite die Paarl opgesit. Die Arendsvlerke toekenning is vanjaar vir slegs die tweede keer in die 12 jaar se bestaan van die kompetisie toegeken en gaan aan ‘n leerder in Graad 12 wat met gespreide vlerke gereed staan om deur kritiese denke en verantwoordelike optrede ‘n positiewe verskil in die samelewing te dryf. Voorwaar ‘n groot eer aan hom en die skool.


Welgedaan aan elkeen van hierdie besonderse leerders. Julle is waardige HVS ambassadeurs!

Meer Nuusberigte