Vanaf 7-9 Februarie 2025 het 23 van HVS se landsdienslede vir hulle eerste klubkamp van die jaar, na Hartenbos vertrek. Die verskeie aktiwiteite op die program het ‘n besoek aan die Bartlomias Diaz Museum, bekende posboom en die akwarium ingesluit. By laasgenoemde kon die besoekers die seelewe soos krappe en seesterre vashou.
Groot was die opwinding om die Diaz waterpark te besoek en die leerders het met groot geesdrif aan al die wateraktiwiteite wat daar aangebied word, deelgeneem. Daar is baie aktiwiteite in ‘n kort naweek ingepas en Volkskool se leerders het weereens bewys dat jongmense nooit moeg word nie!
Saans het die kompeterende kant van die leerders na vore getree met intensiewe tafeltenniswedstryde en bordspeletjies, wat tydens lekker saamkuier om ‘n kampvuur geniet is. Dit is natuurlik met ‘n laaste paar draaie om die sokkiedansvloer afgelsuit. Alle aktiwiteite is met oorgawe en entoesiasme aangepak en die leerders se ywer en energieke uitkyk het vir ‘n naweek vol pret, leer en lekker samesyn gesorg.
Baie dankie aan almal wat bygedra het tot die groot sukses van die kamp, asook aan me. Erasmus, mnr. Van Zyl en me. Coetzee wat die leerders vergesel het.





