Van wol en sybokhaar tot “laser tag” en “go-karts”!
Donderdag, 3 September, het ons Graad 10 Landbou-leerders die pad na Gqeberha gevat vir ’n interessante besoek aan die OVK-wol- en sybokhaarstoor.
Een van die lekker dinge van die besoek was om dit saam met Elize de Jager te kon doen. Elize het in 2022 aan Volkskool gematrikuleer en is vandag deel van die OVK-span. Sy het die leerders meer van die sybokhaarafdeling vertel en verduidelik hoe die afdeling werk. Isane Botha het hulle weer meer oor wol en die verskillende prosesse vertel.
Die leerders kon self aan die wol en bokhaar vat en meer leer oor die verskillende klasse en bins. Hulle het ook gesien hoe die wol en bokhaar ingeweeg en verwerk word, en kon ’n draai deur die versendingsafdeling maak. Dit was lekker om te sien hoe dit wat hulle in die klas leer, in die praktyk toegepas word.
Elke leerder het ook ’n OVK-hoed gekry – ’n lekker herinnering aan die dag.
Baie dankie aan die hele OVK-span vir julle tyd, moeite en gasvryheid. Dit was ongelooflik lekker en ons waardeer die geleentheid wat julle vir ons leerders gegee het om die bedryf van nader te leer ken.
Omdat ’n skooluitstappie darem ook ’n bietjie pret moet hê, het ons later ’n vinnige draai by Baywest Mall gemaak. Die leerders kon daar ’n bietjie stoom afblaas met laser tag en go-karts.
’n Lekker dag van leer, ervaar en sommer net ’n bietjie pret tussen die skoolwerk deur!
