Van 2 tot 4 Julie 2026 het Erik Swanepoel en Frederick de Klerk die uitdagende IMPI Hard Enduro naby Bergville in die Noordelike Drakensberg aangepak – een van Suid-Afrika se grootste en mees veeleisende hard enduro-byeenkomste. Meer as 1 200 ryers het vanjaar deelgeneem, met deelnemers van regoor die wêreld wat hul vaardighede teen die bergagtige terrein getoets het.
Albei ryers het puik gevaar. Erik het 33ste uit 517 deelnemers in die Bronze-klas geëindig, terwyl Frederick ‘n uitstekende 10de uit 337 deelnemers in die Iron-klas behaal het.
Die wedren is ‘n ware toets van uithouvermoë, tegniese vaardigheid en deursettingsvermoë.
Oor drie dae ry deelnemers tot 300km, met gemiddelde rydae van 7 tot 9 uur deur die ruwe terrein van die Drakensberge. Vanjaar was die algehele voltooiingskoers slegs 48%, wat wys hoe uitdagend die kompetisie werklik is.
Baie geluk aan Erik en Frederick met hierdie besondere prestasie. Julle harde werk, vasberadenheid en liefde vir die sport maak ons trots. Veilige kilometers vorentoe – ons sien uit na nog vele suksesverhale!
