Skoolhoof se verslag vir 2017
Die 2017 akademiese jaar is bykans iets van die verlede en wat ‘n jaar was dit nie vir Hoër Volkskool nie. In die holte van ons Hemelse Vader se Hand het HVS gedy en weereens is pragtige prestasies deur ons leerders op akademiese-, kulturele- en op sportgebied gelewer.
Die matriekklas van 2016 het voorwaar hul akademiese spiere gebult en eindig met ‘n 100% slaagsyfer. 68,7% van hierdie klas verwerf ‘n matrikulasievrystelling om aan ‘n tersiêre inrigting hul studies voort te sit. Hierdie klas van 2016 spog ook met 44 onderskeidings. My dank aan die personeel wat baie ekstra ure saans ingesit het om dit moontlik te maak. Baie geluk aan die klas van 2016. Ons is trots op julle, maar onthou egter altyd waar jou krag vandaan kom en waar jou wortels lê.
Op kulturele gebied lewer Hoër Volkskool weereens toppresteerders en ‘n hoogtepunt is waarskynlik “Die Burger” Vlymskerpvasvrakompetisie waar HVS stof in die oë skop van al die deelnemende skole en met ‘n pragtige wisseltrofee huiswaarts keer. Ons leerders lewer ook pratige uitslae op die De Aar kunstefees. Op musikale terrein skuur HVS-leerders ook skouers met van die beste in die land. ‘n Skool sonder kultuur sal voorwaar ‘n halwe skool wees!
Op sportgebied lewer HVS weereens ‘n kwota provinsiale deelnemers. Die twee jong sportwetenskaplikes wat in Januarie 2017 by HVS begin het, waai voorwaar soos ‘n vars briesie deur ons sportgeledere. Hul voortgesette insette in 2018 word met groot afwagting dopgehou. HVS bied ‘n verskeidenheid van sportsoorte aan en daar word van al die leerders verwag om ten minste een somersport en een wintersport te beoefen. Boogskiet is ‘n nuwe sportsoort by HVS wat alreeds provinsiale skuts opgelewer het. My dank aan al die afrigters wat gereeld die ekstra myl loop met die leerders.
Wat buitekurrikulêre sportaktiwiteite betref, lewer HVS ‘n Protea-perderuiter en ‘n provinsiale hengelaar. By HVS word ook jaarliks ‘n Boerbokkursus aangebied vir die graad 11-leerders wat Landbouwetenskap as vak neem.
Ek is bevoorreg om ‘n Beheerliggaam te hê wat betrokke is in alle aspekte van HVS. Hierdie groep ouers dra HVS se belange op die hart. Dankie aan die Beheerliggaam vir ure se omgee.
‘n Spesiale dank aan die besighede en gemeenskap van Graaff-Reinet. In vele opsigte dra u HVS en u lojaliteit kan geld nie koop nie.
HVS is ‘n dinamiese sekondêre skool in die 21ste eeu. Die vele uitdagings wat die lewe van ons leerders eis, is die rede waarom ons as opvoeders in “Loco Partentis” ons bemoei en verantwoordelikheid aanvaar vir die opvoeding van die kinders.
By HVS sal ons op ons knieë bly en elke dag die skool, die leerders, die onderwysers, die ouers en die gemeenskap opdra aan die Genade van ons Hemelse Vader.