Dit is genoeg vir nou ‘n Boodskap wat saak maak. Hoër Volkskool se dramagroep het onlangs aan die Logan Toneelfees in Fraserburg deelgeneem met ’n kragtige produksie van Weerstandsteater.Die stuk het aktuele temas soos plaasmoorde, aborsie, ouerdruk en boeliery op indrukwekkende wyse aangeraak en het diep by die gehoor gereson. 🌟 ’n Spesiale gelukwensing aan Mia Prinsloo, wat vir haar uitstaande toneelspel ’n silwer toekenning ontvang het! Vir dié wat dit self wil beleef, is daar ’n skakel beskikbaar:https://youtu.be/LbPDZRMni_0?feature=shared Ons is trots op elke lid van die dramagroep wat hul talent en toewyding op die verhoog gewys het. 🎭

Parkeerplek vir Interskole naweek
Interskole is om die draai, en ons maak dit maklik vir jou om veilig en gerieflik te parkeer. Volkskool bied verskeie parkeeropsies vir besoekers aan – daar is iets wat by elkeen se behoefte pas. Beplan vooruit, verseker jou plek en fokus op wat saak maak – die gees, die sport en die saamwees!

Sluit Interskole in ware Volksie-styl af!
Na ‘n week vol sport en gees, sluit ons Interskole behoorlik af met ’n aand wat jy nie wil mis nie! 🍽️ Kom honger! Daar wag heerlike kosstalletjies met iets vir elke smaak. 💃 Bring daai dansskoene! Die langarm-dansbaan gaan klop onder jou voete. 🎟️ Toegang: R100 per voertuig By aankoms ontvang jy ‘n parkeerkaartjie wat jy in die aand by die kontantkroeg kan verruil vir ‘n R50 kroegkaartjie.

Akademiese uitstappie na Samara
Vandag het ons graad 8, 9 en 10 leerders wat akademies presteer, ’n besonderse beloning ontvang – ’n uitstappie na die pragtige Samara Karoo Reserve. Ons is met groot gasvryheid verwelkom en die hele dag bederf. Tydens ons wildrit het ons ’n verskeidenheid diere van naby beleef – insluitend ‘n majestueuse ontmoeting met die koning van die Afrika-veld, mnr. Leeu. ’n Onvergeetlike dag vol leer, bewondering en waardering vir ons ongelooflike natuur. Baie dankie aan almal wat hierdie ervaring moontlik gemaak het!

Skaaksukses
Baie geluk aan Handru Olivier wat die Sarah Baartman-distrik verteenwoordig het tydens die Oos-Kaap Interdistrikte Skaaktoernooi, gehou op 11 en 12 Julie by die Universiteit van Fort Hare in Alice. Ons is trots op jou, Handru, en op jou toewyding en harde werk om hierdie prestasie te behaal!

Halfmarathon
Baie geluk, Chris! Chris de Wet, ‘n graad 12-leerling van Hoër Volkskool, het op 26 Julie aan die Madibas Road Race in Gqeberha deelgeneem. Hy het die 21.1 km halfmarathon voltooi met ‘n uitmuntende tyd van 1:56:18. Ons is ongelooflik trots op jou deursettingsvermoë en prestasie, Chris! Jy is ‘n ware voorbeeld van Volksie-gees in aksie!

Boogskiet sukses
Van Hoër Volkskool se boogskietleerders het die afgelope naweek deelgeneem aan die Oos-Kaap Kampioenskappe in Uitenhage — en hulle het behoorlik gemik vir sukses! Conrad Kleyn verower twee goue medaljes in die Hoërskool seuns-afdeling. Mikha Enslin wen twee silwer medaljes in die Hoërskool dogters-afdeling. Riaan Enslin — Mikha se pa en oudskolier van Hoër Volkskool — skiet ’n brons medalje in die mans los-afdeling. Die amptelike Oos-Kaap span word Dinsdag aangekondig, en ons hou styf duim vas vir ons skuts!

Huis Cronje bied Vroue-Tee aan!
Kom vier Vrouedag op Vrydag, 8 Augustus saam met ons! Kaartjies beskikbaar vanaf 22 Julie by Hoër Volkskool se skoolkantoor.

Graad 10 Groenteprojek
Graad 10 skop af met Groenteprojek Die Graad 10 Landbouklas het gister die grond begin bewerk vir hulle splinternuwe groente- en vrugteprojek. In net twee periodes het hulle reeds groot vordering gemaak met die opruim en voorbereidingswerk vir die groentetuin – en ons is sommer baie trots op hulle werksetiek! Hierdie is ‘n projek wat heeltemal deur die Graad 10’s bestuur gaan word, van plant tot oes. Die droom? ’n Tuin vol vars groente en ’n paar vrugtebome wat nie net leergeleenthede bied nie, maar ook iets teruggee aan die skoolgemeenskap. Sterk werk, Graad 10 – ons sien uit om...

Drama
🎭 Skitterende optrede deur Hoër Volkskool se dramaleerders. Ons is hierdie week bederf met ‘n aangrypende toneelstuk deur ons eie dramaleerders. Die stuk, “Dit is genoeg vir nou”, bring harde realiteite na die verhoog en fokus op temas soos tienerdruk, die uitwerking van boelies en die teenkanting teen aborsie.Die talentvolle spelers was Jean Wyngaardt, Ilze Vorster, Mia Prinsloo en Anzel Kleynhans, met Hugo Lambrechts wat die tegniese aspekte hanteer het. Baie geluk aan hierdie groep wat nie net gehore laat dink nie, maar ook diep laat voel. 💫
